AGTERGRONDSKETS VAN TOESTANDE AAN DIE KAAP MET DIE AANKOMS VAN STAMVADER MELT VAN DER SPUY IN 1707 – 1708, EN IN DIE EEU WAT DAAROP GEVOLG HET
Deur Pieter van Aardt van der Spuy
Die Stamvader se Aankoms in die Kaap
Dit was die jaar 1707-1708 toe die 19-jarige Melt as vaandrig (leerling-offisier) in die militêre diens van die H.O.I.K in die Kaap de Goede Hoop voet aan wal gesit het. Voordat ons nou by sy persoon en sy doen en late aan die Kaap uitkom moet on seers net vlugtig ‘n beeld probeer kry van toestande hier aan die suidpunt van Afrika toe hy hom hier kom vestig het, byvoorbeeld:
Wie was die landsregeerders en wat was die regeringstelsels;
Hoe wyd het die grense van die volksplanting gestrek;
Wie was die mense wat reeds hier gevestig was – van watter tipe en gehalte was hulle en wat was hul getalsterkte;
Hoe was die algemene leefwyse in daardie tyd en wat was die voorsiening t.o.v. godsdiens en onderwys;
Wat was die boerderytoestande.
Die Bestuur van die H.O.I.K. aan die Kaap
Soos ‘n mens kan verwag met ‘n hoofsaaklike handelsorganisasie en die tydsgewrig in aanmerking geneem, was die Bestuur aan die Kaap toe die stamvader in die begin van die 18de eeu hier aangekom het, hoofsaaklik burokraties van aard.
Die Goewerneur was die hoogste gesag en in die uitvoering van sy pligte is hy bygestaan deur die Politieke Raad – ‘n liggaam wat bestaan het uit agt lede. Die Goewerneur was die voorsitter en die ander lede ook betaalde amptenare in diens van die Kompanjie.
Die regspleging was die verantwoordelikheid van die Raad van Justisie. Die Goewerneur was ook hier die Voorsitter, bygestaan deur sewe ander amptenare en twee burgerraadgewers. Laasgenoemdes is nie deur die burgery aangewys nie maar deur die Politieke Raad benoem. Die Burgerrade wat die Politieke Raad moes adviseer t.o.v. die belange van die koloniste is wel deur die burgery benoem, maar hul aanstellings was ook onderhewig aan die goedkeuring van die Politieke Raad.
So ook was die landdros as hoof van die Hof van Landdros en Heemrade, ‘n betaalde amptenaar. Die vier Heemrade is wel deur die burgery benoem, maar ook hul aanstellings (vir termyne van twee jaar) was die funksie van die Politieke Raad. Selfs die predikante en skoolmeesters is deur die Politieke Raad benoem en was ook hulle dus amptenare in diens van die Kompanjie.
Die erkenning van die regte van die koloniste in die bestuur van die Volksplanting was dus minimaal en dit was heel verstaanbaar dat antagonisme en verwydering tussen die Bestuur en die koloniste aan die orde van die dag was. Nie net het die betaalde amptenare maar steeds noodgedwonge met die Goewerneur teen die koloniste kant gekies nie, maar was dieselfde ook meerendeels die geval met die benoemde burgerlike verteenwoordigers op die Raad van Justisie, die Burgerrade en die Hof van Landdros en Heemrade.
Stamvader Melt het aan die Kaap aangekom net na afloop van die geweldige botsings tussen die koloniste en die Goewerneur Willem Adriaan van der Stel, wat afgesluit is met laasgenoemde se herroeping na Nederland in April 1707. Hy het dus hier aangeland op ‘n tydstip toe daar meer rustigheid vir die koloniste aan die Kaap aangebreek het. Die bewindhebbers het na hierdie gebeure baie deeglik besef dat daar meer beskerming aan die koloniste teen die uitbuiting deur amptenare gegee sal moet word. Hulle was heelwat versigtiger met die benoeming van goewerneurs en die wat nie gedeug het nie, is so spoedig moontlik deur ander vervang.
Geskiedskrywers is dit ook eens dat die woelinge om die persoon van W.A. van der Stel ‘n verdere voordelige uitwerking gehad het vir sover dit gelei het tot die snoer van hegte bande tussen die koloniste van Hollandse, Duitse en Franse herkoms. Veral die Hugenote, van wie sommige hul volle gewig agter Adam Tas ingegooi het, het hul agitasie om die behoud van die eie identitiet gestaak en ‘n sterk gevoel van volkswording het begin posvat.
Geskiedskrywers gee ook toe dat Willem Adriaan, wat ook al sy ondeugde, tog ook ‘n positiwe bydrae gelewer het vanweë sy voortreflikheid as boer, net soos sy vader op Groot Constantia, en daarin geslaag het om die idée en ideaal om ‘n volksplanting, eerder as ‘n halfwegstasie, te laat seëvier.
Amptenare in diens van die H.O.I.K. was voortaan begerig om hulle as koloniste en as boere aan die Kaap te vestig. En so het stamvader Melt ook na slegs ses jaar diens as offisier sy ontslag gekry en hom as boer gevestig in die omgewing van Wynberg waar hy ‘n buurman van Simon van der Stel van Groot Constantia was.
Interessant ook dat persone soos Jan de la Fontaine, Hendrik Swellengrebel, Adriaan van Kervel en Ryk Tulbagh tydgenote en kollegas van Melt was gedurende sy dienstyd. Hulle as vier later as goewerneurs aangestel in onderskeidelik 1730-1737, 1737, 1739-1751, 1751-1777. Melt, wat op die jeugdige ouderdom van 46 in 1734 oorlede is, het dus nie die bloeitydperke onder die goewerneurskappe van sy eertydse tydgenote Swellengrebel en Ryk Tulbagh belewe nie.
Bevolkingsgetalle
Die volgende statistiek toon die stand aan van die bevolkingsgetalle toe stamvader Melt aan die begin van die 18de eeu hier aangekom het, asook die groei oor die loop van daardie eeu:
Jaartal |
Blank |
Nie-Blank |
1700 |
1245 |
6279 |
| 1754 |
5500 |
5789 (Eerste pokke-epidemie, 1713) |
1756 |
5123 |
5787 (Tweede pokke-epidemie, 1754) |
1795 |
15000 |
17400 |
1890 |
377000 |
320000 / Bantoe 838 000 |
Hierdie gegwens toon o.a. :
(a) hoe vinnig die bevolkingsaanwas in die 18de eeu was;
(b) die rampspoedige uitwerking van die pokke-epidemies van 1713 en 1754 op
die getalle en veral op die nie-blankes;
(c) die statistiek vir die 19de eeu word bygevoeg om aan te toon wat die relatiewe
sneller bevolkingsgroei was gedurende die tydperk van die Engelse bewind en
met die groot uitbreiding van die grense en die stigting van die Republieke.
In sy “Stamouers van die Afrikanervolk” wys Malherbe daarop dat volgens die kerkregisters daar aan die einde van die 17de eeu slegs 200 stamvaders opgeteken kon word; tussen 1700 en 1795 kom daar 1 326 stamvaders by. Hierdie statistiek bevestig dan wat voorheen gestel is : dat Melt hier aangekom het aan die begin van ‘n bloeitydperk toe die winsmotief van die Kompanjie voor die idée van ‘n volksplanting begin swig het.
Grense en Uitbreiding
Die enigste landdrosdistrikte aan die begin van die eeu met hul onderskeie wyke of gebiede was:
Die Kaap 1665 (Tafelbaai en vallei, Rondebosch, Tygerberg en Koeberg)
Stellenbosch 1687 (Stellenbosch, Drakenstein, Swartland, Roodezand en Riebeek-Kasteel).
Weidingsboere het aan die begin van die eeu egter ook reeds in die Overberggebied begin beweeg tot aan Riviersonderend. In die loop van die eeu is Landdrosdistrikte uitgebrei tot Swellendam (1745) en Graaff-Reinet (1792).
Dorpe en Kerke
Die enigste twee dorpe aan die begin van die eeu was Kaapstad en Stellenbosch, met kerke te Kaapstad, gestig 1666, Stellenbosch (1686) en Groot-Drakenstein (1691). Verdere gemeentes is in die loop van die eeu gestig te Roodezand (1743), Swartland (1745) en Graaff-Reinet (1792).
Slegs N.G. Kerke is deur die Here XVII aan die Kaap toegelaat, en dit was eers in 1780 dat die Lutherse Kerk sy eerste gemeente in Kaapstad kon stig – ‘n kerk waarin ‘n aantal Van der Spuy-nasate van hul kinders laat doop het, moontlik vanweë familieverband.
In 1708 was daar 130 en in 1713 reeds 170 lidmate soos deur eerw. Dreyer berig.
Onderwysfasiliteite
Hoewel daar skole was in Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein ten tye van Melt van der Spuy se aankoms, was die onderwys in die geheel uiters swak. Weer eens was dit die geval van ‘n handelsonderneming wat nie ingestel was op sake wat nie die handel bevorder nie. Daarby was dit uiters moeilik om geskikte leermeesters te bekom en het die publiek oor die algemeen ook maar min belangstelling getoon.
‘n Onderwysordonnansie van 1714 maak voorsiening vir ‘n onderwysprogram wat in hoofsaak op godsdiensonderrrig toegespits was. Twee pogings aan die begin van die eeu om skole vir hoër onderwys in te stel het misluk ook omrede gebrek aan belangstelling.
Vermoënde ouers het hul kinders na Holland vir onderwysopleiding gestuur – iets wat stamvader Melt dan ook gedoen het toe hy sy skrander seun Petrus in 1731 gestuur het.
Ongeletterdheid by volwassenes het destyds nog vry algemeen voorgekom. So wys Dr. A. Boeseken (Libraries and Peoples) daarop dat met die ondertekening van die W.A. van der Stel se “Memorie van Aanprysing”, burgers soos Blom, Louis Fliery, Philip du Pres, Charles Marais, Hercules, Verdue en Jan Herfst kruisies as handtekeninge moes maak.
Soos gesien kan word van die fotostatiese afdruk van die stamvader se testament het hy en sy eggenote ‘n vaste en nette handtekening gehad. Van die feit dat hy sy een seun na Holland gestuur het kan afgelei word dat die ouerpaar bewus was van die belangrikheid van die onderwys. ‘n Mens kan dus verwag dat hulle derhalwe die hele gesin in die opsig sterk moes gemotiveer het. So ver vasgestel kan word was al die kinders van die stamvader dan ook geletterde persone.
Boerderytoestande
Na die aanvanklike sukses wat behaal is met die vestiging van die Vryburgers aan die Liesbeeckrivier is verdere eiendomsplase aan gekeurde koloniste toegeken. Hierdie mense was of amptenare of immigrante wat in Nederland gewerf is. Met die aankoms en vestiging van die Franse Vlugtelinge is die boerebevolking aansienlik uitgebrei. Soos die boerderye vergroot en veral die veestapels toegeneem het, het die behoefte aan meer grond ontstaan. En so is dan die stelsel van weidingslisensies ingestel. Hiervolgens is lisensies op aanvraag aan gevestigde boere toegeken om weigronde in verder afgeleë gebiede te bekom. So het die stelsel van veeposte ontstaan.
‘n Plaas van geskiedkundige belang vir die Van der Spuys is byvoorbeeld Olifantskop in die Koeberg. Hierdie eiendom, voorheen ook bekend as “Keer-de Koe” en “Hou-de-Bul” na verdeling, was oorspronklik so ‘n veepos wat aan die Van der Stels toegeken was. Later het dit die eiendom geword van die hoofheelmeester Simon ten Damme in 1698, en in 1787 het dit oorgegaan in die hande van die eerste Van der Spuy-eienaar, ook ‘n Melt, seun van Marthinus en die eerste kleinseun wat die stamvader se naam gedra het.
In 1714 is die stelsel van weilisensies vervang deur die Leningsplaasstelsel. Hiervolgens kon die boer ‘n plaas in gebruik neem teen die betaling van ‘n jaarlikse rekonsiliasiegeld. Van hom is dan verwag dat hy op die plaas bly woon. Hierdie stelsel het groot byval gevind en dit het algemeen gebruik geword vir die boere in die gevestigde gebiede en wat eiendomsplase besit het om dan vir hul opgroeiende seuns dan leningsplase te vra. Dit was dan die stelsel van grondtoekenning toe stamvader Melt hier aangekom het. Hoewel hyself nie hiervan gebruik gemaak het nie maar hom in hoofsaak op handeldryf toegespits het, het van sy seuns hul terdeë daarop toegelê om grondeienaars te word. Veral Marthinus, sy seuns en kleinkinders het in die 18de eeu groot grondeienaars geword, en wel in die Koeberggebied.
Ten slotte, interessantheidshalwe, plekname van enekele geskiedkundige plase in besit van mede-Hollandse koloniste in die tyd van Melt – eienaars met wie hy wellig kennis mee gemaak het:
Boschheuwel, Rustenburg, Zwaanswyk, Vergelegen, Meerlus, Paardevlei, Geduld, Valkenburg, De Kuilen, Elzenburg, Zandvliet, Libertas, Aan het Pad, Welgemoed, Vredenburg en Vergenoegd.
|